Ondersteun jou kind se onderwyser
Onderwysers is nie meer geïdealiseerde wesens wie se woord wet is nie. Hulle moet talle struikelblokke oorkom om leerders vir die lewe voor te berei. Ons daag die Goutie-ouers uit om hul kind se onderwyser op ‘n besondere manier te ondersteun.
Onderwys in krisis. Groot tekort aan wiskunde-onderwysers. Leerder steek onderwyser met skroewedraaier. Onderwyser gooi kind met boek. Leerder kap seun met swaard. Minder studente in opvoedkunde.
Dit is sommige van die koerantopskrifte van berigte oor die onderwys die afgelope twee jaar. Praat ‘n mens met onderwysers, hoor jy van groot probleme: klasse met 40 en meer leerders, sportverpligtinge en administratiewe take wat ure se naskoolse werk verg, opstandige leerders, onbetrokke of kritiserende ouers. Skoolhou is lankal nie meer vyf ure se klasgee en vier lekker vakansies nie.
Onderwysers het onder andere tans te doen met jeugdiges wat oorbewus is van hulle regte, maar bitter min begrip het van hulle verantwoordelikhede. Hulle weet byvoorbeeld baie goed dat dissiplinering vir die onderwyser ‘n mynveld is. Dr. Jeanette de Klerk-Luttig van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, tipeer dit as die “so what-generasie”.
“Dit is ‘n uitputtende werk, fisiek sowel as geestelik,” sê ‘n voormalige wetenskaponderwyser, wat uit die onderwys bedank het. “’n Mens is die hele tyd op jou voete en jy praat, daglank. Jy verduidelik oor en oor. En jy sukkel met daardie astrante belhamel wat kougom kou en nooit sy huiswerk doen nie. En met tienermeisies wat giggel en SMS’e stuur. En jy gee, gee, gee. Inligting, ja, maar ook opvoeding. Jy probeer daardie 40 kinders voorberei vir die lewe: jy probeer hulle toerus met kennis, maar ook met lewensvaardighede. Na skool leer jy hulle rugby speel, of krieket of hokkie, of wat ook al. Dan gaan merk jy toetse en berei more se les voor. Jy vul vorms in en stel verslae op. Jy gee ekstra lesse, want die skool se slaagsyfer is op die spel en jou eie evaluering ook. En vannag lê jy jou en kwel omdat jy nie aan elke kind behoorlik aandag kon gee nie.”
“Emosionele uitputting is die grootste probleem onder leerkragte,” sê ‘n laerskoolonderwyser. Hulle opleiding berei hulle nie genoegsaam voor vir die emosionele eise van hulle beroep nie. Want dit is die onderwyser wat gedragsprobleme moet hanteer wat uit die kind se huislike agtergrond spruit. Dit is “juffrou” wat die aggressiewe pa of neurotiese ma of liefdelose ouerhuis agter ‘n kind se gedurige afwesigheid, ongedane huiswerk of uitdagende gedrag ontdek. En dan die gekneusde kind vir die toekoms moet toerus. “Baie Suid-Afrikaanse jongmense is stukkend omdat hulle ouers stukkend is,” sê dr. De Klerk-Luttig.
Ja, ook die onderwyser het erkenning en waardering nodig, veral in die huidige onderwyssituasie. Die onderwyser wat ervaar dat sy/haar eerlike pogings deur ouers raakgesien en gewaardeer word, sal met minder stres voor die klas kan staan. En “Meneer” of “Juffrou” se goeie bui is die kinders se wins.
Ondersteun die onderwyser so:
· Woon die inligtingsvergadering aan die begin van die jaar by. Dit is veral belangrik as jou kind die eerste keer skool toe gaan of na ‘n nuwe skool gaan.
· Vind uit wie jou kind se klasonderwyser is en gaan maak kennis.
· Maak seker dat jy die omsendbriewe en kennisgewings kry – kinders vergeet maklik so ‘n brief in die tas! Reageer wanneer inligting gevra word; onthou belangrike datums (plak die brief teen die yskas). Moenie voor jou kind reageer met: “Wat wil hulle nou weer hê!” nie.
· Vra jou kind of hy iets nodig het of moet saamneem skool toe.
· Sorg dat huiswerk betyds en volledig gedoen word.
· Gee die nodige hulp met take, sonder om alles vir jou kind te doen.
· Woon die oueraande by waar ouers die geleentheid kry om die onderwysers te ontmoet en hulle kind se vordering te bespreek. Praat met die onderwyser oor dinge waarmee jou kind sukkel. Sê ook “dankie”.
· Wanneer jou kind oor ‘n onderwyser se optrede kla, maak eers seker van die feite. As dit ernstig is of herhaaldelik gebeur (“Juffrou pik op my!”), reel ‘n afspraak met die onderwyser. Stel dit duidelik dat jou kind nie aangemoedig word om stories aan te dra nie, maar dat jy die probleem wil help oplos omdat dit die kind se belewing van die skool nadelig beïnvloed.
· Moet dit nie as ‘n persoonlike aanval beskou wanneer jou kind se onderwyser of die skoolhoof jou skakel om swak gedrag of ‘n ander probleem te bespreek nie. As jy weier om aandag te gee aan die probleem, kan jy jou kind ernstig banadeel. Skoolpersoneel wat genoeg omgee om die moeite te doen om jou te kontak en dus jou kind te wil help, verdien jou samewerking.
· Woon skoolfunksies en sportgeleenthede by en help daarmee indien moontlik.
· Skryf soms ‘n waarderende briefie of kaartjie van bemoediging. Of gelukwense met ‘n verjaardag en medelye met verlies.
· Praat met die onderwyser as daar omstandighede is wat jou kind se aandag op skool kan beïnvloed – ernstige siekte, dood, werksomstandighede. Dit sal die onderwyser help om begrip te hê vir die kind se belangeloosheid.
· Detensie of ander straf volg gewoonlik eers na baie waarskuwings. Leer jou kinders dat hulle verantwoordelikheid moet neem vir hulle dade en dat reëls nodig is.
· Moenie jou kind in sy kwaad sterk deur ‘n “siektebriefie” te teken indien hy nie regtig siek is nie, maar net nie skool toe wil gaan nie.
· Sorg dat jou kind genoeg slaap en gesonde kos kry. ‘n Rustige huis en liefdevolle ouers is die veilige basis waaruit die kind sy dag kan aandurf.
· ‘n Ongeskikte kind breek ‘n mens se moed”, sê ‘n onderwyser. Leer jou kind goeie maniere, soos:
* Dankie en asseblief.
* Kyk die onderwyser in die oë wanneer jy groet of as daar met
jou gepraat word.
* Groet besoekers op die skoolterrein, en ook die werkers.
* Vra verskoning as jy laat kom.
* As ‘n opdrag nie uitgevoer is nie, sê: “Ek is jammer”. Neem
verantwoordelikheid vir die versuim en vra of dit die volgende
dag ingegee kan word.
· En onthou: Bid vir jou kind se onderwysers. Hulle het voorwaar genade nodig.
Deur Willa de Vos
Lig Tydskrif