FNB Classic Clash-wenners 2011. Hartlik geluk GOUTIES!!!

 

 

 

 

 

GOUDVELD-HOЁRSKOOL

 

 

TOELATINGSBELEID

 

 

BELEID VAN GOUDVELD-HOЁRSKOOL RAKENDE DIE TOELATING VAN LEERDERS TOT DIE SKOOL

 


Aangesien Goudveld-Hoërskool (hierna “die Skool”) 'n openbare skool is met regspersoonlikheid ingevolge die bepalings van artikel 15 van die Suid-Afrikaanse Skolewet, Nr. 84 van 1996 (soos gewysig) (hierna “die Skolewet”) waarvan die beheer aan sy skoolbeheerliggaam (hierna “die SBL”), soos in artikel 16 van die Skolewet, toevertrou is;

 

Aangesien die SBL ingevolge artikel 5 van die Skolewet by magte is om onderhewig aan die bepalings van die Skolewet en enige toepaslike provinsiale wet, die Skool se beleid rakende die toelating van leerders tot die Skool en grade by die Skool te bepaal;

 

Aangesien die SBL met betrekking tot die kwessie van leerdertoelating tot die Skool of verskillende grade by die Skool op die volgende wetgewing (hierna “die wetgewing”) let:

 

(i)           die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika vervat in Wet Nr. 108 van 1996 (hierna “die Grondwet”);

(ii)          artikel 3(3)(4)(I) en 5 van die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, Nr. 27 van 1996 (“NEPA”);

(iii)        die Toelatingsbeleid vir Gewone Openbare Skole, deur die minister van onderwys in Staatskoerant Nr. 19377 van 19 Oktober 1998 (Kennisgewing Nr. 2432/98) (hierna “ministeriële beleid”) gepubliseer; en

(iv)        die Wysigingswet op Onderwyswette, Nr. 50 van 2002;

 

Aangesien die Skool en sy SBL die betrokke bepalings van die wetgewing raadpleeg in soverre dit vir hulle geld en bindend is en voorrang geniet bo die mag van die SBL om die Skool se toelatingsbeleid te bepaal en terselfdertyd vasbeslote is om die volle toepassing van die Skool se toelatingsbeleid binne die perke van die wetgewing en van tyd tot tyd enige ander toepaslike wetgewing te verseker.

 

Daarom verklaar die SBL namens die Skool nou die Skool se Beleid vir die Toelating van Leerders tot die Skool of Verskillende Grade by die Skool soos volg:

 

 

 

 

1.           AANSOEKE OM TOELATING TOT DIE SKOOL

 

1.1      Daar word erken dat –

 

(a)       die Departementshoof (Onderwys) (hierna “DH”) en/of         amptenare van die departement van onderwys (DVO) wat        deur die DH gedelegeer is (hierna “die DH-     gedelegeerde(s)”), vir die administrasie van leerdertoelating tot die Skool verantwoordelik is, en

 

(b)      die DH/die DH-gedelegeerde(s) 'n registrasieproses vir         toelating tot openbare skole moet bepaal sodat         leerdertoelating op 'n tydige en doeltreffende wyse      plaasvind.

 

1.2      Daar word beklemtoon dat die Skoolhoof hierdie beleid te alle tye   sigbaar, billik en ingevolge die wet in aanmerking moet neem         tydens optrede ooreenkomstig paragraaf 1.1 hierbo of die          beslissingsproses rakende toelatingsaansoeke.  Die Skool en sy SBL      sal ook van die Skoolhoof verwag om te alle redelike tye volle        toegang tot en afskrifte van enige registers of lêers wat as deel van           die toelatingsproses gehou word te verkry.

 

1.3         Die Skool en die SBL sal van die Skoolhoof verwag om die inligtingsbylae vir beheerliggaamdoeleindes (hierby aangeheg) by die voorgeskrewe aansoekvorm in te sluit en die voltooiing daarvan deur die aansoeker te verseker.

 

1.4         Die Skool en die SBL sal van die Skoolhoof verwag om te verseker dat die volgende vir die  aansoekers beskikbaar is:

 

(a)      die SBL-grondwet;

(b)      die Skool se taalbeleid;

(c)       die Gedragskode vir Leerders; en

(d)      hierdie toelatingsbeleid.

 

1.5      Die Skool en die SBL onderskryf die siening dat ingevolge die reg    en by gebrek aan 'n hofbevel tot die teendeel, die wettige voog(de)     van 'n minderjarige leerder die uitsluitlike reg het om te besluit by         watter skool hulle kind/pleegkind ingeskryf word.  Gevolglik      aanvaar die Skool en SBL geen aansoek tensy dit ingedien word      deur die voog(de) van, of die persoon/persone met wettige aanspraak op sorg vir die minderjarige leerder, of 'n      persoon/persone wat skriftelik deur hulle daartoe gemagtig word    nie.  Voorts beskou die Skool en die SBL nougesette nakoming van hierdie benadering as noodsaaklik aangesien dit verseker dat       geldige toestemming verleen word vir die behandeling van die        leerder in loco parentis, vir die leerder se deelname aan uitstappies,          ensovoorts.  Gevolglik word daar van die Skoolhoof verwag om te         verseker dat hierdie benadering streng nagekom word.

 

1.6      Die SBL onderneem om die Skoolhoof in pogings te ondersteun om          die persone waarna daar in paragraaf 1.5 hierbo verwys word aan      te moedig om voor die einde van die jaar wat die volgende   skooljaar voorafgaan, om die toelating van hulle      kinders/pleegkinders aansoek te doen.

 

1.7      Onderhewig aan hierdie beleid vereis die SBL dat die die Skoolhoof           leerdertoegang tot openbare skole, waaronder dié Skool, in oorleg         met die Skool koördineer, en onderneem die SBL om opbouende    ondersteuning te verleen ten einde te verseker dat alle geskikte   leerders toepaslik toelating ontvang.

 

1.8      Waar 'n leerder of voornemende leerder drie of meer jaar bo die     normale, wetsvoorgeskrewe ouderdom vir sy/haar betrokke graad is, (bv. graad 8 – 15 jaar), of vir die graad waarom daar namens    hom/haar aansoek gedoen word, sal so ‘n leerder nie toegelaat      word nie.  Die Skoolhoof kan die SBL raadpleeg om in ‘n spesiale    geval ‘n uitsondering te maak.

 

1.9      As 'n voorvereiste vir enige besluit rakende die toelating van 'n       leerder tot die Skool, vereis die Skool en die SBL dat die Skoolhoof        die volgende bepaling van die Grondwet streng nakom –

 

          “28 (2) – 'n Kind se beste belang is van deurslaggewende belang in           elke aangeleentheid wat die kind raak”.

 

 

2.       DIE SKOOL SE GEDRAGSKODE VIR LEERDERS (INSLUITEND DRAGKODE)

 

          Hoewel aansoekers se weiering om die Skool se Gedragskode vir Leerders           (insluitend dragkode) te onderskryf nie die toelating van die leerder tot die     Skool kan verhoed nie, sal die kode nietemin bindend wees vir die leerder.  Artikel 8(4) van die Skolewet bepaal soos volg:

 

          “Geen bepaling van hierdie Wet stel 'n leerder vry van die verpligting om die gedragskode van die skool wat deur sodanige leerder bygewoon word, na te kom nie.”

 

          Aansoekers word aangemoedig om die Skool te ondersteun deur hulleself van die Skool se Gedragskode vir Leerders te vergewis en die nakoming         daarvan deur leerders te verseker.

 

 

3.       SKOOLGELD

 

3.1     Ouers (soos in artikel 1 van die Skolewet omskryf) se versuim, weiering of onvermoë om skoolgeld te betaal, kan nie die toelating van leerders tot die Skool verhoed nie.

 

3.2         Ingevolge artikel 38-41 van die Skolewet, moet 'n algemene jaarvergadering van die ouers van ingeskrewe leerders by die Skool na dertig (30) dae kennisgewing aan ouers geskied.  By die jaarvergadering besluit die meerderheid van die ouers teenwoordig op die aanvaarding al dan nie van die begroting wat vir die volgende boekjaar deur die SBL voorberei is.  By dieselfde vergadering kan die meerderheid van stemgeregtigde ouers teenwoordig besluit dat die betaling van skoolgeld verpligtend moet wees, wat die skoolgeld per leerder per jaar sal wees en watter maatstawwe sal geld vir algehele of gedeeltelike vrystelling aan ouers wat nie die volle verpligte bedrag of 'n gedeelte daarvan kan betaal nie.  Ouers wat nie daartoe in staat is om enige gedeelte van die bedrag of die volle bedrag te betaal nie, is daarop geregtig om op die voorgeskrewe vorms by die SBL om algehele of gedeeltelike vrystelling van die betaling van skoolgeld aansoek te doen.  Sodanige aansoeke moet vertroulik deur die SBL hanteer word.  Ouers wat om vrystelling aansoek doen, kan die finansiële beampte by die Skool vir bystand met die aansoek nader.  'n Ouer wat deur die SBL se besluit verontreg voel, kan ingevolge die prosedure wat in genoemde regulasies uiteengesit word, by die DH appelleer.

 

3.3         Aansoekers om vrystelling moet egter daarop let dat die gekombineerde jaarlikse inkomste van ouers in berekening gebring word in die besluit of ouers vir vrystelling in aanmerking kom al dan nie.  “Gekombineerde jaarlikse bruto inkomste van ouers” word in regulasie 1 van voorgenoemde regulasies omskryf as –

 

          “die saamgetelde bruto inkomste van al die ouers van 'n leerder      soos in die Wet omskryf…”.

 

3.4         Die Skolewet omskryf “ouer” soos volg -

                        (a)      die ouer of voog van 'n leerder;

                   (b)     die persoon met wettige aanspraak op sorg vir 'n leerder; of

                   (c)      die persoon wat onderneem om die verpligtinge van 'n                                      persoon in paragrawe (a) en (b) ten opsigte van die leerder                               se opvoeding op skool na te kom.

 

          Dus indien die leerder byvoorbeeld 'n pa én 'n ma het, maar by       sy/haar tante woon, met ander woorde 'n persoon na wie daar in    (c) hierbo verwys word, sal die gekombineerde bruto inkomste       (vóór belasting of aftrekkings) van al drie – d.w.s. die ma, pa én     tante – in berekening gebring word wanneer daar oor algehele of        gedeeltelike vrystelling van die betaling van skoolgeld beslis word.

 

3.5         Om hierdie rede moet die besonderhede van alle persone wat onder die omskrywing van “ouer” val, in die toelatingsaansoek aan die Skool verskaf word.

 

3.6         Die aansoeker se aandag word voorts op die volgende bepaling van die Skolewet gevestig –

 

                    (Artikel 41) – “Die beheerliggaam van 'n openbare skool kan die                         betaling van skoolgelde deur ouers wat daarvoor aanspreeklik                     is, deur regsproses afdwing.”

 

3.7         Ouers van leerders word aangemoedig om die hoë onderrigstandaard en die goeie skoolfasiliteite en -omgewing in stand te hou deur skoolgeld te betaal en, waar hulle algehele of gedeeltelike vrystelling van die betaling van verpligte skoolgeld ontvang, hulle dienste tot voordeel van die Skool aan die SBL beskikbaar te stel.

 

 

4.           SKOOLEIENDOM

 

          Aansoekers se aandag word op die volgende gevestig:

 

(1)     Elke leerder by 'n openbare skool sal goed omsien na die eiendom   van die skool wat tot sy/haar beskikking gestel word en sal dit         voor of op die datum wat deur enige opvoeder by die skool       aangedui word, aan die skool terugbesorg.

(2)      Die ouers van 'n leerder by 'n openbare skool sal aanspreeklik wees           vir enige skade aan of verlies van skooleiendom waarvoor die       betrokke leerder op sy/haar beurt teenoor die skool aanspreeklik is.

 

(3)      Dit is elke ouer se plig om die Staat en die beheerliggaam van 'n     skool in die bevordering van 'n kultuur van respek vir skooleiendom by te staan.

 

 

5.       RISIKO VAN SKADE OF VERLIES

 

          Aansoekers word daarop gewys dat die Skool geen aanspreeklikheid         aanvaar vir skade aan, die vernietiging of verlies van enige eiendom wat       deur die leerder of sy/haar ouer(s) op die Skoolperseel gebring word nie,    ongeag wie sodanige skade, vernietiging of verlies veroorsaak, hoe dit           veroorsaak word, of dit deur iemand se optrede of versuim veroorsaak      word, en of dit opsetlik of weens nalatigheid veroorsaak word.  Die Skool       aanvaar geen aanspreeklikheid nie.  Leerders word aangemoedig om na          enige eiendom wat op die Skoolperseel gebring word om te sien, en           aansoekers en ouers van leerders word aangemoedig om self die nodige    versekering teen sodanige skade, vernietiging of verlies uit te neem.

 

 

6.       VOLGORDE VAN VOORKEUR MET BETREKKING TOT TOELATINGSAANSOEKE

 

6.1      Tensy en totdat die DH in oorleg met die SBL anders besluit, is       Welkom dorpsgebied die natuurlike voedingsgebied van     Goudveld-Hoërskool.

 

6.2      Die Skool is tans 'n Afrikaansmedium-instelling en beskik dus oor    menslike hulpbronne wat hoofsaaklik voorsiening maak vir daardie        leerders wie se moedertaal of gekose onderrigtaal Afrikaans is.

 

6.3      Aangesien die Skool en die SBL weet dat hulle nie onregverdig teen          'n leerder mag diskrimineer namens wie 'n toelatingsaansoek       ingedien word nie, en dus geensins voornemens is om te    diskrimineer nie, en hoewel hulle graag hulle deel tot leerderonderrig in vennootskap met die Staat wil bydra, begryp     hulle dat die Skool nie alle leerders kan inneem nie en dat een of        ander vorm van (billike) diskriminasie rakende leerdertoelating      onvermydelik is.  Daarom en in die lig van voorgenoemde, is dit die          Skool se beleid dat aansoeke in die volgende volgorde van voorkeur        hanteer word –

 

(a)                  Eerstens, aansoeke namens leerders wat saam met hulle ouers/voogde binne die natuurlike voedingsgebied van     die Skool      woon en wie se moedertaal Afrikaans is.

 

(b)                  Tweedens, aansoeke namens leerders wat saam met        hulle ouers/voogde binne die natuurlike voedingsgebied       van die Skool woon en wie se gekose onderrigtaal               Afrikaans is.

 

(c)                  Derdens, aansoeke namens leerders wie se ouers/voogde           werklik by 'n adres binne die natuurlike voedingsgebied        van die Skool in diens is en wie se moedertaal Afrikaans         is.

 

(d)                  Vierdens, aansoeke namens leerders wat buite die natuurlike voedingsgebied van die Skool woon, wie se      moedertaal Afrikaans is en wat 'n vak/vakke wil neem           wat deur die Skool en nie deur 'n ander skool nader aan    die leerder se woonplek aangebied word nie.

 

(e)                  Vyfdens, aansoeke namens leerders wat buite die natuurlike voedingsgebied van die Skool woon en wie se moedertaal Afrikaans is, op 'n eerste-kom, eerste-keuse-              grondslag.  Die SBL kan vereis dat die ouers van hierdie   leerders die volle skoolgeld moet betaal en nie op   vrystelling kan aanspraak maak nie.

 

          Nieteenstaande voorgenoemde behou die SBL die reg om     oorheersende voorkeur te gee aan broers of susters van leerders          wat reeds by die Skool ingeskryf is.

 

 

7.       VEREISTES

 

Buiten waar die bepalings van bogenoemde nie in die beste belang van 'n leerder of ander leerders is nie, sal die SBL en die Skool die reg hê om tot     voordeel van die spesifieke leerder ander opvoedkundige inrigtings aan te beveel.

 

 

 

 

8.           TOELATING VAN PERSONE SONDER SUID-AFRIKAANSE       BURGERSKAP

 

          Soos per regulasie

 

9.                DIE SBL EN DIE LEERDERS VAN DIE SKOOL

 

9.1      Daar sal van alle leerders verwag word om hulle pligte volgens die gedragskode en ander voorskrifte na te kom. 

 

9.2      Die SBL beskou homself gebonde tot die beskerming van die          opvoeders, leerders, ouers en nie-opvoeders van die Skool teen liggaamlike of geestelike geweld in soverre die SBL by magte is        daartoe, en voorts tot die koestering van die liggaamlike, geestelike         en morele welsyn van leerders.  Vir hierdie doeleinde -        

 

(a)          behou die SBL die reg voor om die dissiplinêre en       gedragsrekord van enige voornemende leerder by die Skool         te bestudeer, en alle stappe binne sy mag te doen om die          toelating van 'n leerder te verhoed wie se gedrag juis daardie beste belange kan bedreig wat die SBL genope voel     om te beskerm;

 

(b)          mag die SBL die DH om inligting vra en met hom/haar in      geding tree oor die wysheid van die toelating van 'n leerder           tot enige graad by die Skool wanneer sodanige leerder     ernstig benadeel sal word deur sy/haar onvermoë om op die           vereiste vlak vir behoorlike onderrig in daardie graad te        kommunikeer of mee gekommunikeer te word;

 

(c)          mag die SBL, gegewe die hulpbronne en omstandighede van           die Skool, enige redelik uitvoerbare stappe doen om 'n    gestremde voornemende leerder in die Skool te laat aanpas; en

 

(d)          verwag die SBL dat personeellede, leerders of ouers enige     saak by hom sal aanmeld met betrekking tot die misbruik          van regte of inbraak op die belange wat die SBL juis wil   beskerm.

 

 

 

 

 

10.     DIE OUERS/VOOGDE EN DIE SKOOL/SBL

 

10.1      Ouers/voogde van leerders word versoek om die aansoekvorm te    voltooi ten einde die skool van alle toepaslike inligting te voorsien.

 

10.2      Ouers/voogde word aangemoedig om by al die werksaamhede van die Skool betrokke te raak, aan te bied om lede te word van die beheerstrukture en ondersteuningsgroepe wat die belange van die           Skoolgemeenskap dien en die onderrigproses te ondersteun deur     opbouend met opvoeders om te gaan en te verseker dat leerders    opgelegde take en huiswerk pligsgetrou en nougeset doen.  Daar      word voorts van ouers verwag om te verseker dat hulle kinders      behoorlik toegerus is om ten volle aan die onderrigproses deel te           neem en dat hulle skool stip op tyd en gereeld bywoon.

 

10.3      Ouers/voogde word versoek om toe te sien dat hulle kinders die      voorskrifte van die gedragskode nougeset nakom.

 

 

11.     Hierdie beleid mag van tyd tot tyd deur die SBL gewysig, aangevul,                                         verander of aangepas word.

 

 

 

 

 

 

 

Aanvaar deur die Beheerliggaam van Goudveld-Hoërskool tydens ‘n beheerliggaamvergadering gehou te Welkom op 16 September 2010.

 

 

 

 

Javascript DHTML Drop Down Menu Powered by dhtml-menu-builder.com